Die A tot Z van borgstelling

Baie van ons sal gedurende ons leeftyd op ‘n stadium gevra word om borg te staan vir ‘n ander persoon se skuld. Maar om jouself te verbind as borg vir iemand anders se skuld is ‘n risiko wat versigtig benader moet word, en indien onvermydelik, betree moet word met ‘n volle begrip van die aard en gevolge van so ‘n borgstelling.

 

Wat is borgstelling? 

 

‘n Borgstelling is ‘n ooreenkoms tussen drie partye, nl. 1) die skuldeiser, 2) die hoofskuldenaar en 3) die borg. In terme van hierdie oreenkoms, onderneem die borg in sy persoonlike kapasiteit om die skuldenaar se uitstaande verpligtinge aan die skuldeiser na te kom indien die skuldenaar nie die verpligtinge self kan nakom nie.

 

Wat is die vereistes en wanneer word dit afdwingbaar?

 

Die Algemene Regswysigingswet, 50 van 1956 maak daarvoor voorsiening dat ‘n geldige borgstellingsooreenkoms vergestalt moet word in ‘n geskrewe dokument geteken deur of namens die borg.

 

‘n Borgstellingsooreenkoms kan egter nie bestaan sonder ‘n hoofskuld nie. Daarom kan die skuldeiser slegs prestasie van sy verpligting van die borg eis as daar ‘n hoofskuld is en die hoofskuldenaar nie daarin slaag om sy hoofskuld na te kom nie.

 

Dit moet ook die duidelike voorneme van die partye wees om ‘n borgstellingsooreenkoms aan te gaan en die partye moet saamstem oor die mate waartoe die borg aanspreeklikheid aanvaar asook die tydperk van aanspreeklik deur die borg.

 

Wat is ‘n mede-hoofskuldenaar? 

 

Die meeste borgstellingsooreenkomste bind die borg as borg en mede-hoofskuldenaar, wat beteken dat die borg se verpligtinge gelykstaande aan die van die hoofskuldenaar is, en hy gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik tot die skuldeiser is. Een van die moontlike gevolge daarvan om te teken as mede-hoofskuldenaar is afstanddoening van die voordele van uitwinning. Dit beteken dat die skuldeiser nie eers die skuld van die hoofskuldenaar hoef in te win voordat die ooreenkoms teen die borg afgedwing word nie.

 

Het ek die toestemming van my eggenote nodig om as borg te staan?

 

Die Wet op Huweliksgoedere, 88 van 1984, maak voorsiening dat eggenote wat binne gemeenskap van goedere getroud is hulself nie mag verbind as borg ten opsigte van ‘n transakie sonder die geskrewe toestemming van hul gade asook bevestiging deur twee bevoegde getuies nie.

 

As ‘n persoon wat binne gemeenskap van goedere getroud is ‘n borgstellingsooreenkoms teken sonder die nodige toestemming van hul gade, sal die borgstelling in meeste gevalle ongeldig en onafdwingbaar wees.

 

Die enigste uitsondering op die reël is waar iemand wat binne geneemskap van goedere getroud is ‘n borgstellingsooreenkoms teken in die gewone loop van hul beroep of besigheid. 

 

Is dit moontlik om jou aanspreeklikheid te beperk?

 

Die enigste manier om jou aanspreeklikheid te beperk is om jouself te vergewis van die identiteit van die ander betrokke partye, asook die aard en omvang van die skuld en die tydperk van jou aanspreekliheid. Dit is belangrik om daarop te let dat “voordurende dekkende borg”-klousules dikwels ingesluit word in skuldooreenkomste. Dit kan moontlik die borg ewigdurend gebonde hou vir die skuld van die hoofskuldenaar en die borg bind vir skuld wat enige tyd in die toekoms verskuldigbaar word, selfs as daardie borg nie meer op enige manier betrokke is by die skuldenaar nie. Dit is ook raadsaam om nie te teken as mede-hoofskuldenaar waar dit vermy kan word nie.

 

Is die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 (“NCA”) van toepassing? 

 

In Firstrand Bank Ltd v Carl Beck Estates (Pty) Ltd het die hof opgemerk dat die NCA van toepassing kan wees op borgstellingooreenkomste en dat dit duidelik val binne die definisie van ‘n “kredietwaarborg” soos uiteengesit in artikel 8(5). Dit sal egter slegs van toepassing wees op ‘n borg tot die mate waartoe die NCA van toepassing is op die onderliggende kredietfasiliteit of krediettransaksie (hoofskuld) ten opsigte waarvan die borgstelling toegestaan is.

 

Ook, waar die hoofskuldenaar in terme van die onderliggende kredietooreenkoms nie ‘n “verbruiker” is soos die NCA dit definieer nie, sal die borg nie op die beskerming van die NCA kan staatmaak nie. As die NCA wel van toepassing is is op ‘n borgstelling, sal die borg kan staatmaak op verskeie beskermingsmeganismes van die NCA, soos die verweer dat die kredietwaarborg self gelykstaande is aan “roekelose kredietverlening”, of dat die hele onderliggende kredietooreenkoms onwettig is. Die kreidetverskaffer sal ook die spesiale skuldinvorderingsprosedures moet volg soos uiteengesit in die NCA as hy die kredietooreenkoms wil afdwing waar die hofskuldenaar in gebreke is.

 

Uit die bostaande behoort dit duidelik te wees dat ‘n borgstelling ‘n bindende verpligting is wat verstaan en versigtig betree moet word. Verkry dus regsadvies voordat jy ‘n borgstellingooreenkoms sluit.

Neil Esterhuysen and Associates

Leave a Reply